DIE HART IS MAAR NET ? POMP

Die eenmanvertoning ‘Die hart is maar net ‘n pomp’ word vertolk deur akteur Johan Engelbrecht en is geskep deur Barnard aan te haal uit verskeie van sy publikasies rondom die eerste hartoorplanting in 1967 by die Grootte Schuur hospitaal in Kaapstad.

Hierdie kontroversiële chirurg het die hele wêreld se verbeelding aangegryp vanaf die eerste hartoorplanting, sy verhoudings en mislukte huwelike en sy politieke- en godsdienssieninge wat gevorm is deur sy kinderdae as die seun van ‘n sendingprediker in Beaufort-Wes.

Hy word deur die media en kennisse beskryf as ‘n pierrewaaier - arrogant, geldgierig, humeurig en nie naastenby so slim as wat ‘n mens sou dink nie, en tog word een van die grootste medies wonderwerke voor sy deur gelê en kan hy tot vandag, naas Nelson Mandela, as die beroemdste Suid-Afrikaner van alle tye bestempel word. Hy het letterlik oornag wêreldwyd ‘n huishoudelike naam geword maar ook die prys van roem betaal.

Die hart is maar net ‘n pomp” is ‘n aanhaling wat hom duur te staan gekom het, aangesien die hart, tot in daardie staduim, beskou is as ‘n simbool van liefde en die kern van ons geestelikheid. Die hart is die bron van lewe. Maar… Die konsep ‘breindood’ is gebore die oomblik toe die gesonde hart van Denise Darvall die siek hart van Louis Washkanski vervang het.

In hierdie 60 minute vertoning word gepoog om die omstandighede – medies, polities en veral eties - waaronder hierdie hartoorplanting plaasgevind het, te belig en veral waarom dit beskryf word as een van die tagtig gebeurtenisse wat die koers van die geskiedenis van die wêreld verander het.

Tydens die produksie sal die gehoor die emosie van ‘n sterwende pasient ervaar maar ook die passie van ‘n dokter wat alles sou doen om sy pasiente te help en die alleenheid van ‘n hart chirurg in daardie ure van die eerste hartoorplanting wat soos ‘n ewigheid gevoel het.

Die grootste doelwit van hierdie vertoning is egter om die publiek bewus te maak van die waarde om vir orgaanskenking te registreer en hoe een mens se verbintenis tot orgaanskenking nie minder as AGT lewens kan red nie. Dit is ‘n gebaar wat die dood self waardig is.

Die produksie word ondersteun deur die Orgaanskenking Vereening van Suid Afrika.