FRANK OPPERMAN

Dit is te danke aan karakters soos ‘Ouboet”, “Yster Swart”, “Kaptein Blitz” en “Ds. Tienie Benade” dat Frank Opperman een van die bekendste en gewildste akteurs in ons land is. Mense het Frank oor die jare deur sy kleurryke karakters leer ken en so het hy ‘n huishoudelike naam geword. Kyk, die mense onthóú vir Ouboet en Poeksie, en in jou geestesoog verskyn Ouboet met sy bekende breker-waggelstappie, skouers vooroor gegooi.

Poeksie Woeksie se Woepsie Wapsie Worsie’ is meer as 25 jaar gelede die eerste keer op TV gehoor. Dié kenmerkende frase het volksbesit geword het en Ouboet daarmee saam. “Sê wát?” hoor Frank dikwels mense sê. Hulle wil Ouboet en Poeksie se bekende rympie uit die destydse sitkom hoor. En dan gee hy dit maar vir hulle.

Sedert die dae van Orkney Snork Nie was daar ‘n magdom ander TV rolle en verhoogproduksies vir Frank Opperman. Enkeles sluit in “Die Vierde Kabinet”, Gautengeleng” en meer onlangs “Pandjieswinkel” en “Munisipalieit van Gwara Gwara”.

Die verhoog is Frank se speelplek. Geen wonder dat produksies soos “Die Uwe Pottie Potgieter” (168 optredes), “Wyk 14” (98 optredes) en “Rooikaart (160 optredes) so suksesvol was nie.

Afgesien van teater het Frank nog een groot liefde. Musiek! “Ek is ’n closet rock star. As ek eendag grootword, gaan ek ’n kitaarspeler word’ sê Frank. Twee CDs het die lig gesien en om musiek te maak bly steeds een van Frank se “guilty pleasures”.

By die huis is hy ’n pa, ’n lewensmaat, en iemand wat die lewe geniet en voluit leef.