LEE SCOTT

Jy druk Lee Scott se musiekstyl nie in ‘n kassie nie! Daar’s pop, daar’s blues, daar’s swing. En hy laat dinge uitbundig rock! “Ek lééf bloot my droom en gebruik my Godgegewe talent om te sing!” vertel die 24-jarige ster.

As ‘n voormalige lid van een van die land se gewildste groepe, Hi-5, het Lee selfs in die buiteland ondervinding opgedoen. Met TV-opnames van Dis hoe dit is met Steve, DKNT, Noot vir Noot, Roer en “Wild Room”, het die kamera voor dié ou se aantreklike energie geswig.

Die verhoog is Lee se speelplek. Sy teaterervaring sluit optredes by Barnyardteaters, Sound Stage en Gold Reef City. “Ek was Mei 2010 in Noorweë by die Eurovision Song Contest en het daar opgetree en dit was onvergeetlik! In die begin het die mense nie geweet wie ek was nie, maar toe ek eers begin sing het, het die mense my laat voel soos ‘n internationale ster! Baie deure het vir my oop gegaan.

Sy debuut album, Die Enigste Manier is sy groot trots. Hieroor borrel Lee! “Daar is 12 snitte op waarvan ek een van die liedjies - Net n bietjie meer tyd – se lirieke geskryf het en dan het ek op n’ paar van die ander liedjies help skryf! Die Afrikaanse danssnitte is gekrui met oemf en die Engelse ballades sal hom lugtyd op nasionale radio verseker. Die sukses van hierdie CD word weerspieel deur die feit dat die lied “We Can Try” vir 6 weke die no 1 posisie bekleem het op Radio Rippel en ook gehoor kan word op KFM. Verskeie ander snitte is op verskillende radiostasies te hoor.

Lee spog met twee nominasies vir sy CD “Die Enigste Manier naamlik ‘n SAMA nominasie in die kategorie “Best Pop Album” asook ‘n Huisgenoot Tempo nominasie in die kategorie “Beste Pop Album”. 2012 hou opwindende belofte in en Lee werk aan ‘n splinternuwe CD wat later vanjaar bekend gestel word. Die jaar het reeds gesorg vir groot opwinding met Lee se optrede as gaskunstenaar by die 6de jaarlikse SAFTA Toekennings in Johannesburg. Lee sê hy reik na goue status en sy plan is duidelik omlyn: “Ek wil die land én wêreld plat sing en dan wil ek ook my eie klerereeks bekend stel.” Oor dié dinge twyfel hy nie, want dit is DIE ENIGSTE MANIER!