DERRICH GARDNER

Die stem agter die mikrofoon en die gesig voor die kamera.

Derrich begin sy loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf by Radio Highveld in 1987 en daarna by Jacaranda 94.2 Deesdae is hy die man saam met wie Suid- Afrika elke Saterdag wakker word op die RSG ontbyprogram “Brêkfis met Derrich”.

Sy gemak agter die mikrofoon het aan hom die geleentheid gebied om ook sy plek vol te staan in die televisie bedryf. Derrich Gardner het ‘n huishoudelike naam geword as kontinuïteitsaanbieder vir die destydse SABC 2. Hy werk later as veldaanbieder vir die gewilde programme “Pasella” en “Kwêla”. Derrich was tot 2008 die aanbieder van kykNET se “DKNT”.

In die opname ateljee het hy reeds ‘n groot aantal stemopnames vir “Topsport”, SABC promosies, “Kwêla” se programskedule, asook radio- en TV-advertensies gedoen. Sy besonderse stem, aanslag en tweetaligheid, verseker dat sy dienste in groot aanvraag is.
Die korporatiewe mark is vir hom geen nuwe ervaring nie en blyk uit die talle optredes by produkbekendstellings, motiveringskongresse en jaareindfunksies. Derrich is in groot aanvraag as seremoniemeester by modeparades, musiekkonserte en ‘n breë spektrum van kultuurverwante gebeurtenisse.

Hy doen die naam Derrich Gardner gestand en is in wye kringe bekend as ‘n ywerige tuinier. Soveel so dat ‘n roos na hom vernoem is. Sy besondere belangstelling in en kennis van tuinbou het meegebring dat hy dikwels genooi word as beoordelaar by verskeie tuinbou-kompetisies en om praatjies in dié verband te lewer. Hy skryf deeltyds tuinrubrieke vir die Caxton groep (Vrouekeur) en doen al die fotografie self.

Deesdae is hy die aanbieder van Landbousake op Kyknet met fokus op die hedendaagse boer. Sy rol as aanbieder van die program sorg dat hy gereeld genooi word vir praatjies by landbou vereenigings. Derrich was ook verantwoordelik vir die konsep en navorsing van die reeks “Grensoorlog” wat op Kyknet te sien was.

Derrich is goed tweetalig en die perfekte keuse om ekstra glans aan enige funksie te verleen. Sy ondervinding van die afgelope 20 jaar in die vermaaklikheidswêreld is ook nie te versmaai nie en is hy ‘n rolmodel vir menige aspirant radio-/tv-aanbieders. Sy professionaliteit en deeglikheid wanneer dit kom by werk as seremoniemeester besorg hom groot lof van organiseerders en verseker dat hy gereeld teruggenooi word deur kliente.