DIE KLAAGLIEDERE VAN DS. TIENIE BENADE

Dominee Tienie staar so strak soos die graf na die muur voor hom, sy blou-oog en die pleister op sy voorkop duidelik sigbaar. “Dit was Tannie Bets van Wyk wat my so geslaan het”.

Die gewilde akteur Frank Opperman (aan baie bekend as “Orkney Snork Nie” se “Ouboet” ), is terug op die verhoog met ‘n splinternuwe produksie – Die Klaagliedere van Ds. Tienie Benade. Ds. Tienie Benade is ‘n middeljarige predikant van die Moedergemeente, aan die onderkant van Voortrekkerstraat, en hy bevind hom permanent in ‘n penarie. Sy gemeente se lot is dieselfde as baie ander gemeentes: getalle is drasties aan’t daal, die skuldlas groei en sy senior kerkraadslede is knorrig en te oud om van hulp te wees.

Ds. Benade verskyn op die verhoog met ‘n ghetto blaster waarop orrelmusiek en selfs ook die begeleiding van ‘n paar gesange opgeneem is. Die orrel se pype is gesteel soos die gehoor later in die preek verneem, daarom geen orrrel vir begeleiding nie. Die teater gehoor word vinnig deel van die “erediens” wat hy een Sondagoggend lei. Die tema vir sy “preek” is uit Klaagliedere geneem “Wie is ek….?” en is alles behalwe ‘n dogmatiese verklaring van die teks.

Die Klaagliedere van ds. Tienie Benade is ‘n storie van verdriet maar ook ‘n storie van hoop wat nie beskaam nie, ‘n bittersoet verhaal wat met deernis vertel word van ‘n Afrikaanse dominee in ‘n tyd waarin mense nie meer so getrou kerk toe gaan nie.

Frank Opperman vertolk ‘n meesterlike rol as predikant in hierdie eenmanproduksie. Die teks is geskryf deur die bekroonde skrywer Dana Snyman en die regie is gedoen deur Gerrit Schoonhoven. Die produksie duur 60 minute en is geskik vir alle ouderdomme en is die perfekte keuse vir ‘n fondsinsameling. Dit kan in ‘n skoolsaal, kerksaal of selfs binne in die kerk aangebied word.